Recently, I was fortunate to contribute to Beeld newspaper’s Kunskyk column. The premise of the column is that artists choose for discussion an artwork or the oeuvre of another artist they find inspiring. I chose one of my all time favourite paintings Nightfall by Uruguayan artist José Gamarra.

Iets sinisters agter die ‘mooi’.

Beeld – Kunskyk.
2011-02-07 23:00

José Gamarra is ’n Uruguaanse kunstenaar wie se skilderkuns dikwels vereenselwig word met Suid-Amerikaanse magiese realisme.

Gamarra leef en werk sedert 1963 in Parys, Frankryk.

Sy Derdewêreldse herkoms en Eerstewêreldse bestaan is bydraend tot ’n binêre verbinding wat lei tot kreatiewe spanning in sy werk.

In Gamarra se hedendaagse kunswerke vorm die ruie Amasone-reënwoud die tablo waarteen die menslike drama afspeel.

Baie van die karakters in sy landskappe dateer van die era van koloniale besetting, party verteenwoordig kultuurspesifieke argetipes en ander is weer mitologiese figure uit 20ste-eeuse Westerse popkultuur.

Met hierdie eklektiese ensemble span Gamarra ’n narratiewe draad wat die prekoloniale en die neo-koloniale geskiedkundige beskouings van Suid-Amerika met mekaar verweef.

Kultuurbotsings en die vernietiging van die natuurlike omgewing as gevolg van mensgemaakte ontwikkeling en konflik is sedert die 1980’s konstante temas in Gamarra se werk.

Met die eerste oogopslag lyk Gamarra se skilderye soms soos die naïewe pogings van ’n stokperdjiekunstenaar met verwysing na die landskapskilder-tradisie van reisigerkunstenaars. By nadere beskouing ontdek die kyker egter ’n meer sinistere boodskap van skending, uitbuiting en geweld.

Oënskynlik onbeduidende besonderhede word belangrike merkers vir die interpretasie van die kunswerk, en dra by tot die spel van betekenis.

In Nightfall (1993) beeld Gamarra ’n aantal figure uit verskeie epogge en mites uit, wat saam op ’n tradisionele kano diep die Amasone invaar.

Daar is die strokiesprentkarakter Superman aan die boeg en ’n Spaanse conquistador agter op die vaartuig. In die middel van die kano vind ons aan die een kant ’n Christus-figuur met twee honde as metgeselle, en aan die ander die figuur van Satan, naïef uitgebeeld met horings en ’n drietangvurk. Saam vorm Satan en die conquistador die donker kant van hierdie binêre groepering.

Die dieper lees van die Christus- en Superman-argetipes lei egter tot die bewuswording dat hierdie nie ’n eenvoudige binêre paring is nie, maar dat die hegemonie van Westerse ideologieë en meesternarratiewe wel eendag sou lei tot die skending van inheemse tradisies en lewenswyses en die uitbuiting van die plaaslike bevolking en hulpbronne – alles natuurlik dikwels met gepaardgaande geweld.

Gamarra ontleen die styl waarin Nightfall geskilder is aan die Nederlandse skilder Frans Post, na aanleiding van laasgenoemde se landskappe geskilder ná afloop van ’n besoek aan Suid-Amerika in die middel van die 17de eeu.

Ek vind self veral aanklank by die kunstenaar se bitsige dog humoristiese interpretasie en uitbeelding van die tragedie van koloniale vergrype.

Detail van José Gamarra se Nightfall (1993).

Links to original articles:

Beeld

Die Burger

Advertisements